![]() |
Goeie Hoop Produkte Vervaardiger van kwaliteit Biltongkerwers, Vingerborde en Karemborde |
| Tot u diens sedert 1966 |
|
Meer oor ons...Ontstaan van Goeie Hoop Produkte: Die fabriek het sy ontstaan in 1966 as ‘n familie besigheid in ‘n klein dorpie gehad met die naam Strydenburg (Noordkaap, op die rand van die Groot karoo) waar my oupa Jannie (J.T.) Schutte ‘n predikant was. ‘n Ekstra inkomste was nodig om voorsiening te maak vir die behoeftes van die sewe kinders in die gesin (die dae voor TV). Die eerste produkte wat oupa Jannie in sy vrye tyd mee begin het, was kroegstoele (hy het benadruk dat dit kombuisstoele is) en badkamerkassies. Met sy marknavorsing het hy die relatief onbekende bordspeletjies Vinger- en Karembord (lg. word met ‘n stok gespeel) raakgeloop, en besluit om daarop te konsentreer. In die geloof het hy sy nuwe sakebedryf Goeie Hoop Produkte genoem. Gedurende vakansies (gewoonlik een maal per jaar) het oupa Jannie op pad na hul bestemming by elke sportwinkel op pad gestop om sy produkte bekend te stel of by bestaande kliënte oë te wys (en sommer so die koste van die vakansie te dek). Vir daardie dae was die S A Spoorweë heel goed georganiseer en beskostigbaar, dus was dit die hoofwyse waarop sy produkte oor die land heen versprei is (hoewel die naaste stasie sowat 30 km van die dorp was.) Toe die Schutte-gesin in 1971 na Petrusburg in die Suid-Vrystaat trek, het die besigheid so uitgebrei dat dit as fabriek moes registreer. Petrusburg (dubbeld so groot as Strydenburg) had sy eie spoorwegstasie, en was geleë halpad tussen Bloemfontein en Kimberley (80km vanaf beide). Die stewige, goedvervaardigde Vinger- en Karemborde van Goeie Hoop Produkte het ‘n huishoudelike naam dwarsoor die land geword en min gesinne was sonder een. Maar toe slaan die een-oog god toe: Televisie word die hoof-tydverdryf van gesinne, en verkope van die bordspele daal. Nie lank daarna nie neem die koste van spoorvervoer drasties toe, tot so ‘n mate dat dit nie meer lonend was om die bordspele oor die land heen te stuur nie.. So het ‘n nuwe produk in ongeveer 1985 die lig gesien: Biltongkerwers uit hout met vlekvrye staallemme. En vandag is die kwaliteit-reeks biltongkerwers steeds die hoofproduk van Goeie Hoop Produkte. Oupa was ‘n baie eerlike en opregte mens wat ‘n baie noue band met sy kliente gehad het. Hy het ook gestrewe na ‘n kwaliteit produk, soos ons vandag nog doen. Toe oupa Jannie in April 1998 oorlede is, het ek (sy kleinseun en naamgenoot) die fabriek by my ouma gekoop, en so sit ons die tradisie voort: Goeie, kwaliteit produkte, gemaak om te hou en plesier te verskaf tot diep in die toekoms. Tans maak ons vier verskillende grootte kerwers. AS JY KOOP MAAK SEKER DIS ‘N GOEIE HOOP KERWER OF VINGERBORD!!!!!!!
|